Want rou rieme werk!

Hoekom rou rieme?

Wit rieme is gelooi met aluminium sulfaat wat beteken dat die riem rekbaar is. In die looiproses kom daar ook looivette by wat die rekbaarheid vergroot. Stoelrieme breek altyd op die kante van die stoel. Hoe meer rekbaar die riem is, hoe groter is die ‘bloudraad-effek’.

Omdat rou rieme nie ‘n looimiddel of looivette bevat nie, is dit nie rekbaar nie en daarom is die leeftyd langer. Mens vind dat wanneer dit vir ‘n week lank reën, die rou rieme sal sak, maar trek weer styf wanneer die son skyn.

Hoe span mens met rou rieme?

Vir ‘n standaard eetkamerstoel gebruik mens 1 rol rou rieme van 8 meter.

  1. Hou rieme oornag in koue water voor dit gebruik word.
  2. Boor gate in stoel uit tot 7.5mm.
  3. Kyk vir diep snymerke onderaan riem en sny riem by die swak plek af. Twee knope onder ‘n stoel is beter as ‘n swak plek.
  4. Maak seker dat die ‘vuil’ kant van die riem bo is. Dit lyk soos ‘n nartjie se skil.
  5. Begin met ‘n knoop. Los die riem voor die knoop ongeveer 6cm lank. Dit druk jy, nadat jy die stoel gespan het, met ‘n ‘long nose’ tangetjie deur die lussies (langsaan die knoop) aan die onderkant van die stoel.
  6. Ryg die riem deur van voor na agter en trek styf van die een kant af.
  7. Trek riem tot dit horisontaal is en daar geen spanning is nie.
  8. Dit voel dalk te pap, maar die riem gaan nog baie styftrek soos wat dit droog word.
  9. Eindig met ‘n knoop onder die stoel.
  10. Herhaal die proses met die dwars riem. Ryg bo-oor en onderdeur.

Vir ‘n standaard eetkamerstoel gebruik mens 1 rol rou rieme van 8 meter.

Wanneer die stoel klaar geriem is, moet die hele mat van die stoel ongeveer 25mm kan afdruk. Staan ‘n ent weg van die stoel af en maak dan die kruis- en dwarslyne mooi reguit en gelyk met jou vingers. Die stoel sal in die son die eerste dag ongeveer 80% droog word. Die volgende dag kan die stoel heeltemal droog word in die huis. In reënerige weer kan dit tot drie dae duur voordat daar op die stoel gesit kan word.

Onthou: vir honde is rou rieme soos biltong, hou hulle maar weg van riempiesbanke en stoele. Rieme wat oorbly kan vir jare gestoor word en weer gebruik word. Stoor rieme droog en nie in ‘n plastieksakkie nie, die plastiek laat dit muf.

Span van banke:

  1. Span altyd die langste deel van die bank eerste.
  2. Vir twee-sitplek banke en bal-en-klou stelle, moet die riem twee vingerbreedtes hang.
  3. Die gerygde riem – van voor na agter – moet net horisontaal getrek word. (Nie hang soos by punt 2 nie.)
  4. Drie-sitplek banke met tussensporte (wat gaatjies het), word gespan soos beskryf by punt 2.
  5. Vier-sitplek banke met tussensporte (wat gaatjies het), moet vier vingerbreedtes hang op die lang deel.
  6. Vier-sitplek banke wat met of sonder tussensporte het (sonder gaatjies), moet 25cm aan die lang kant hang.
  7. Al hierdie banke word van voor na agter gespan soos beskryf by punt 3.

Koste?

Rou rieme word in 8m bondels verkoop wat voldoende is om ‘n standaard eetkamerstoel te span tot ‘n 10×10 gat. Die koste per 8m bondel is R130 en vir bestellings van 10 of meer R110.

Die standaard breedte is 6.5mm. Smaller rieme van 5mm breedte is beskikbaar teen R90 per rol van 8m en vir bestellings van 10 of meer R80.

Enige ander breedtes is egter slegs op bestelling beskikbaar. Pos en verpakking is uitgesluit by pryse.